Lees Ester 4:1-17.
“Wie weet, miskien is dit juis met die oog op ’n tyd soos hierdie dat jy koningin geword het!” (v 14).
Die Jode was in ’n groot krisis. Haman, een van die magtigste manne in die land, het besluit dat die Jode uitgeroei moet word. Met ’n slinkse set het hy koning Ahasveros sover gekry om ’n proklamasie uit te vaardig dat alle Jode doodgemaak moet word. Hierdie gebeure het Mordegai in rou gedompel. Later het hy by Ester gaan hulp soek. Sy was aanvanklik huiwerig omdat sy nie op haar eie voor die koning kon verskyn nie. Maar Mordegai het die Here se plan agter haar lewe raakgesien. Vandaar sy woorde dat sy juis in ’n krisistyd soos hierdie koningin geword het.
Ester het toe al haar moed bymekaargeskraap en haar belangrikste “wapen”, haar skoonheid en sjarme, gebruik om die koning se voete weer onder hom uit te slaan. Toe die koning dan ook baie vriendelik teenoor haar reageer, het sy hom en Haman vir ete uitgenooi.
God gebruik mense op die regte plek, soos ons gister gesien het. Maar Hy sorg ook dat die regte mense op die regte tyd leef. Jy is daarom nie te vroeg of te laat gebore nie. Dalk wens jy jy kon in ’n ander tyd of op ’n ander plek geleef het. Wel, jy hoef nie langer so te dink nie. Want jy, ja jy, is vir ’n tyd soos hierdie bestem. God wil jou in hierdie tyd benut. Nie oor ’n paar jaar nie; nee, in hierdie tyd is jy sy mens! Laat maar net toe dat Hy deur jou werk. Dan is die tyd en die plek en die persoon reg. Dan is God besig om sy planne te laat geluk!
Here, dankie dat ek in ’n tyd soos hierdie mag leef!
Stephan Joubert