Lees Genesis 50:18-21.
Josef het hulle jammer gekry en hulle gerusgestel ( v 21).
Tot aan die einde van sy lewe het Josef op die Here se pad gestap. Dit is nie asof sy geestelike batterye later pap geword het en hy begin tou opgooi het nie. Daarom kon hy tot aan die einde steeds goed wees vir sy broers. Want hulle kon steeds nie glo dat hy hulle vergewe het vir wat hulle hom jare gelede aangedoen het nie. Maar Josef het nie boek gehou van hulle kwaad teen hom nie. Daarom was sy hart regtig seer toe sy broers hom op ’n dag vir die hoeveelste keer vra om hulle te vergewe. Dit het hom sommer laat huil van hartseer. Hy het immers al soveel kere vir hulle gewys dat hy nie wraakgedagtes teen hulle koester nie.
Vergifnis is dade, nie net gesindhede nie. Josef se vergifnis jeens sy broers het hom duur gekos, want hy het vir hulle ’n nuwe land, grond, huise en leefruimte gegee. Hy het boonop ook kos vir hulle en hulle kinders beloof.
Wat het vergifnis jou al gekos? Moes jy al iemand anders se oortredings teen jou afskryf en van voor af begin? Wel, as jy ’n Christen is, dan is dit presies wat jy moet doen, want Christene vergeef. Elke keer. Christene kan keer op keer opnuut begin – en oorbegin. Die Here se mense dra nie wrokke nie. Hulle probeer nie om ander mense terug te kry nie, want hulle dien die God wat spesialiseer in vergifnis. Hulle ken vir Christus wat vrede en vergifnis tussen hemel en aarde met sy eie bloed kom bewerk het.
Christus, leer my om te vergeef.
Stephan Joubert