Lees Romeine 15:30-32.
Stry saam met my deur vir my te bid (v 30).
Geloof is stryd. En stryd vra gebed. Altyd! Sonder gebed is daar weinig geestelike krag in die kerk en ook weinig oorwinnings op die sendingveld. Paulus het dit geweet. Daarom dat hy so dikwels vir gelowiges gevra het om vir hom te bid. Want gebed is die sleutel tot die Here se krag en genade. Dit ontsluit sy goedheid keer op keer.
Sonder gebed is die kerk magteloos. Sonder gebed karring gelowiges maar voort van die een geestelike neerlaag na die ander. En van die een vaal dag na ’n ander sonder die nodige Goddelike visie. Gebed is die manier waardeur ons met God in gesprek bly oor sy kerk en sy koninkryk hier op aarde. En waardeur ons groot oorwinnings in sy Naam behaal.
Dikwels is gebed ook deel van die stryd. Wanneer die bedreigings teen God se kinders fel is en ernstige probleme hulle in die gesig staar, moet hulle bid. In sulke tye moet gelowiges ingrawe in hulle gebedsloopgrawe! Hulle moet bly bid totdat God die sluise van genade oor hulle ooptrek.
Paulus vra gebed van ander vir sy eie pad. En nie sommer sulke vinnige gebedjies nie. Nee, gelowiges moet saam met hom stry in die gebed. Want sy werk om die evangelie uit te dra, is op die ou end ook hulle taak. Daarom moet hulle saamwerk deur te bid. Ons ook. Stry vandag hard in gebed ter wille van Christus se kerk.
Christus, ek pleit dat U u kerk in genade sal aansien.
Stephan Joubert