Lees Efesiërs 6:14.
Bly dan op julle pos, toegerus met die waarheid as gordel om julle heupe, die vryspraak deur God as borsharnas … (v 14).
Wapens moet effektief wees. Anders is dit ’n mors van tyd om hulle by jou te hê. Wel, die Here se wapenrusting is uiters effektief. Hy gee vir ons almal ’n gordel van waarheid om ons middel. Hoekom? Want ons as Christene dien die Waarheid (= Jesus Christus): Ons praat die waarheid en ons verdedig die waarheid. Waarheid beskerm ons teen die leuens van die vyand.
Saam met die waarheid kry ons ’n borsplaat wat ons hart, ons diepste gevoelens en emosies, beskerm. Hierdie borsplaat is God se vryspraak. Die duiwel is ’n meester van twyfel saai. Hy karring gedurig aan ons om ons wys te maak dat ons nie sulke goeie gelowiges is nie. Of dat ons die Here se gebooie oortree. Maar wanneer ons ons emosies omring met die wete dat God ons vryspreek van al ons sondes, hoef ons glad nie vir Satan se twyfelpraatjies bang te wees nie. Dan kan ons elke keer ervaar en weet: God spreek ons uit genade vry en nie omdat ons so goed of oulik is nie. Hy doen dit enkel en alleen om Jesus ontwil.
God se wapens is daar om gebruik te word. Ons moet elke dag ons hemelse gordel aansit en ons borsplaat om ons harte span. Dan sal ons vir die waarheid leef. Dan sal ons weet ons is vrygespreek van alles wat vroeër ’n muur tussen God en ons gevorm het. God se wapens hou ons daagliks op ons pos.
Here God, hou al u kinders vandag op hulle pos.
Stephan Joubert