Boodskap vir Vandag

Search

Voluit, enduit wenpaal toe

Lees 1 Korintiërs 9:27.

Maar ek oefen my liggaam en bring dit onder beheer ( v 27).

In Paulus se tyd het een van die vier grootste spele van die antieke wêreld, die Ismiese Spele, elke tweede jaar in Korinte plaasgevind. Tydens hierdie spele het atlete, digters, dramaturge en baie ander mense van oor die wêreld heen met mekaar meegeding in die strewe na roem en erkenning. Die beloning was lourierkranse en groot amforas met olie, wat baie werd was, maar hierdie bekendheid was ook maar van korte duur. Al die harde voorbereiding en inspanning het uiteindelik min voordele ingehou.

Paulus het waarskynlik self die Ismiese Spele bygewoon tydens sy verblyf in Korinte waarvan Handelinge 18 vertel. Hier het hy gesien hoe toegewy die atlete is en met hoeveel passie hulle deelneem om te wen. Toe maak hy die punt dat ons as Christene ook atlete in die Here se span is. Ons moet met groot oorgawe tot sy eer leef en ons moet ons inspan om die prys te ontvang wat die Here vir ons in gedagte het. Sy prys is nie tydelike erkenning nie, maar die ewige lewe saam met God. Maar hierdie prys is nie vir almal beskore nie. Dit wag net op diegene wat nougeset volgens God se reëls deelneem. Dit vra dag na dag se vasbyt en volharding op die pad van Jesus Christus. Nie vir ’n enkele oomblik mag ons ons oë van Jesus afhaal nie.

Voluit, enduit wenpaal toe – dit moet ons leuse wees.

Jesus, hou my vandag geestelik fiks.

Stephan Joubert

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.