Lees Jesaja 55:1-5.
Kom, almal wat dors is, kom na die water toe, selfs ook dié wat nie geld het nie, kom, koop en eet (v 1).
Ons sloof ons dag vir dag af vir geld. Ons lewe lank jaag ons agter rande en sente aan. En ons geld word by die dag al hoe minder werd. Kospryse gaan op, rentekoerse styg, inflasie neem toe – dit alles maak dat ons harde werk dikwels pure verniet is. Want ons leef ook nie juis veel geriefliker met ons harde werk en al nie.
Die Here weet hoe ons elke dag rondhardloop agter wie weet wat aan. Hy weet ons betaal baie rande vir brood wat nie vir altyd ons honger stil nie. En ons werk ons dood vir geld wat net vir ’n rukkie hou. Daar moet mos iets beters wees as dit, of hoe? Wel, ja! Daar is ’n oplossing. Kom koop kos verniet! “Hoe is dit moontlik?” vra jy. Wel, kom maar net na God toe met jou groot dors en jou honger. Maar los jou beursie by die huis. Hy bied iets veel kosbaarder as aardse kos. Die Here bied hemelse wyn en melk. En dit is gratis!
Al wat jy moet doen om die Here se nuwe hemelse kos te ontvang, is om jou ore oop te maak en al jou sondes te laat staan. Soek ernstig na God se wil en doen dit. Dan sal nuwe lewe soos wyn en melk elke dag oor jou spoel.
Wanneer jy gereeld aan die Here se voete kom sit, oorstroom sy goedheid jou. Dan oorrompel Hy jou met sy vrede, sy liefde, sy versorging. Dan kom jou moeë gees tot rus en jou bekommernis oor aardse kos en klere verdwyn. Kom sit aan by die Here se feesmaal.
Heer, ek loof U dat ek ook genooi is na u feesmaal.
Stephan Joubert