Lees Hebreërs 5:11-14.
Iemand wat nog van melk lewe, kan nie saampraat oor wat reg en verkeerd is nie, want hy is nog ’n kind (v 13).
Ware geestelike groei vind net binne-in jou plaas. Deur die werk van die Heilige Gees verander jy van binne af; nooit andersom nie. Geestelike volwassenheid is nie soos grimering wat jy vinnig kan aanplak om jou “geestelike fabrieksfoute” mee te versteek nie. Jy kan dit nie naboots nie. Geestelike groei word deur ’n daaglikse verhouding met God gevorm en versterk. Daar is dus net een raad vir jou as jy ’n man of vrou wil wees wat geestelik volwasse is: Laat staan die melkkos. Laat toe dat die Gees jou van binne af buitentoe verander.
Om ’n lewe te leef wat God behaag, moet jy tyd maak om eenkant met Hom te wees. Dit is nie genoeg om net Sondae kerk toe te gaan, of om geld vir die kerk te gee nie. As dit al is wat jy doen, leef jy op melkkos terwyl die hemelse poorte wag om bokant jou oopgetrek te word en Goddelike seën te laat neerstort! Jou geestelike karakter word gevorm deur gereelde gesprekke met God en deur getroue studie van sy Woord. Dan sal jy nie meer tevrede wees met melkkos nie. Nee, dan begin jy smag na vaste kos; na ’n diep en innige wandel met die drie-enige God.
Heilige Gees, lei my na geestelike volwassenheid.
Stephan Joubert