Lees 2 Korintiërs 11:27.
Daar was vir my harde werk en swaarkry (v 27).
Paulus se getuienis oor sy geloof sou hom waarskynlik nie vandag op die voorblad van Christelike tydskrifte of op geestelike radioprogramme laat beland het nie. Dit is immers nie só indrukwekkend nie. Nêrens is daar in sy getuienis hier in 2 Korintiërs 11 enige sprake van al die gemeentes wat hy op die sendingveld gestig het, of oor almal wat onder sy prediking tot bekering gekom het nie. Al waaroor die apostel teenoor die Korintiërs kan getuig, is oor sy swaarkry en inspanning ter wille van Christus: nagte sonder slaap in die koue, sonder kos, lyfstraf, skipbreuk, stenigings, gevaarlike werksomstandighede, eensaamheid, verstotenheid … Niks om oor te romantiseer nie.
Paulus se eie liggaam was die padkaart van sy geloof. Op sy rug kon hy al die merke wys van daardie kere dat hy uitmekaar geslaan is vir sy belydenis dat Jesus die Here is. Wat ’n fenomenale man wat ten spyte van al die weerstand en opoffering enduit geloop het op die regte pad!
Maar maak geen fout nie – dit is geen grap om Jesus te volg nie. Die enigste rede waarom dit vandag so maklik lyk, is omdat ons halfhartig op Jesus se hakke loop. Ons kyk hoe goedkoop moontlik ons dit kan doen. Terloops, wat van jou? Hoeveel kos jou geloof jou? Watter merktekens het jy om te wys?
Here, maak my ’n egte dissipel van U.
Stephan Joubert