Lees 1 Timoteus 6:8.
As ons dan kos en klere het, moet ons daarmee tevrede wees (v 8).
Ons basiese behoefte is om elke dag kos en klere te hê. En ons hoogste behoefte is selfverwesenliking – om ons grootste lewensdrome waar te maak. So vertel die slim ouens ons.
Wel, in die Bybel lees ek dat Christus gekom het om ons heel basiese behoeftes te vervul. Hy sê in Johannes 6 dat Hy die Brood van die Lewe is wat ons honger vir altyd wegvat. Christus vervul ook ons heel hoogste behoeftes wanneer Hy in Johannes 7 sê dat strome lewende water uit ons binneste vloei as ons in Hom glo. En dat ons boonop nou al die ewige lewe het … lewe in oorvloed wat nooit weer sal ophou nie. Christus oorlaai ons dag vir dag met soveel seën dat dit oor ons hande en voete en lippe na die wêreld toe stroom.
Christus is ons alles! Ons kom niks kort nie. Hy het gekom om lewe en oorvloed aan ons weg te gee. Wanneer die lewe donker is, is Hy helder Lig. Wanneer pyn en teleurstellings ons omring, is Hy ons Helper. Wanneer ons nie meer kan of wil aangaan nie, is Hy ons Krag. As almal ons verlaat, is Hy naby. Asof dit nie genoeg is nie, voorsien Hy ons ook elke dag met die nodige kos en klere. Daarom moet ons tevrede wees met wat ons het. Ons mag nie slawe van besittings wees nie. Dan het ons nooit genoeg nie. Dan kom ons altyd iets kort. Kom ons raak heeltemal tevrede met die Here se oorvloed.
Here, dankie dat ek genoeg het.
Stephan Joubert