Lees Filemon vers 20.
Maak my hart bly, soos ’n broer in Christus (v 20).
God se basiese plan vir jou lewe is dat jy sy heerlikheid moet raaksien. Filemon moes God se handewerk en grootheid raaksien in sy ongehoorsame slaaf, wat skielik weer op sy drempel kom staan het met ’n nuwe hart in sy binneste. En jy? Wat moet jy van God raaksien? Omdat jy God se kosbaarste aardse besitting is, wil Hy hê jy moet Hom elke dag eer en bewonder. Hoe meer jy sy liefde raaksien, hoe meer verander jy.
Hoor weer en glo: Sien God se heerlikheid raak, en verander! Dít waarborg God se Gees. Hy sê elke dag oor en oor in jou binneste: “Kyk reg en leef!” Sien dan dat God groter is as jou probleme. Sien dat Hy groter is as die lewe self. God is LEWE.
Kry jou fokus reg. Kyk elke dag na God. Hy sal die res doen. Hy sal jou na sy ewebeeld vorm. Dis die nuwe avontuur vir die res van jou lewe. Sien vandag dat jy hemelse goud werd is. En kyk Godwaarts. Kyk reg om te LEEF.
Jy sien God raak in sy Woord. Wanneer jy die Bybel lees, ontdek jy God se Vaderhart. Maar jy leer God ook ken in gebed. Hoe meer jy sy aangesig soek, hoe meer raak jy nederig en klein voor Hom. En jy ontdek God ook in ander mense, soos Filemon God se goedheid in die splinternuwe Onesimus ontdek het. Leer om by die alledaagse dinge in jou lewe verby te kyk totdat jy God daarbinne ontdek.
Laat my u heerlikheid ontdek. In Jesus se Naam.
Stephan Joubert