Lees 1 Tessalonisense 3:13.
So sal Hy julle innerlik sterk maak (v 13).
Soos ons al vantevore gesê het, is dit ’n fyn kuns om te luister. Die Tessalonisense het in die drie weke wat Paulus onder hulle gewerk het, fyn geluister. Daarom dan ook dat Timoteus aan Paulus die goeie nuus kon oordra dat hulle nog vas staan in die geloof. Paulus is só dankbaar oor die nuus dat hy nie weet hoe om God na behore daarvoor dankie te sê nie. Hy bid dat die Here hulle innerlik sterk sal maak sodat hulle onberispelik en heilig voor God kan staan wanneer Jesus weer kom.
Een van die belangrikste dinge wat ons moet hoor, is dat ons lewe van binne af moet verander, nooit andersom nie. Dit is wat Paulus hier in 1 Tessalonisense 3:13 vir die gemeente bid. Wanneer ’n mens net aan jou geestelike voorkoms werk, is jy eintlik net besig om mense gelukkig te hou. Dan sit jy die regte voetjie voor om ander te probeer beïndruk. Skynheiligheid word dan die sement waarmee jy al die krake in jou lewe toesmeer. Ware verandering begin egter van binne af buitentoe. Daarvoor bid Paulus. Hy smag na mense wie se binneste verander het sodat hulle net vir God leef. Hy is op soek na mense vir wie die Here eerste kom.
Here, maak my innerlik sterk.
Stephan Joubert