Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Loof God ’n slag!

Lees Eksodus 15:1-9.

“U is hoog verhewe, U vernietig wie teen U opstaan” (v 7).

Ons kla partykeer sommer net oor alles. Later word dit ’n slegte aanwendsel. Dan raak ons foutvinderig. Niks is ooit reg of goed nie. Dit is ’n gevaarlike situasie om in te beland. Want dit verander ons in bemoeisieke mense wat met niks op aarde tevrede is nie.

Wanneer ons die Here dien, leer ons om by elke klein probleempie verby te kyk. Dan sien ons vir God raak agter elke knik in die pad. Dan leer ons om Hom te loof. Lof aan God is die vernaamste rede vir ons bestaan. Lof is dít wat elke dag op ons lippe moet wees. Daar is oorgenoeg redes om God te loof en sy Naam te eer. God is goed, oorvloedig goed! Hy beweeg hemel en aarde om met sy goedheid by ons uit te kom.

Moses het lofliedere saam met die volk geskryf en gesing ná die merkwaardige verlossing daar by die Rietsee. Hulle kon nie vir God genoeg dankie sê dat Hy hulle deur al hulle krisisse gedra het nie. Hulle woorde was te min om sy lof te verklank. Want nou het hulle opnuut besef: God is tot enigiets in staat. Hy kan die onmoontlike doen. Hy alleen is Heer.

Skryf jy vandag ook ’n loflied? Of komponeer jou lewe tans net klaagliedere? Wel, begin dan ’n slag jou seëninge tel en vertel dit ook aan God. Doen dit sommer van nou af elke dag.

Here Jesus, ek loof U vir u goedheid.

Stephan Joubert

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.