Lees Romeine 15:7-13.
Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees! ( v 13).
Vreugde is ’n skaars artikel in ons dag. Min mense het dit, en dié wat dit het, steek dit soms goed weg. Vreugde is egter ’n integrale deel van ons geloof. Dit is nie ’n opsie nie. Gelowiges moet vreugde hê. So sê God. Want ons dien die God van blydskap.
Vreugde is nie net ’n emosie nie. Nee, dit is ’n blywende toestand van geluk en hoop. Vreugde loop nie verniet hand aan hand met vrede en hoop hier in vers 13 nie. En dit word nie sonder rede met die Heilige Gees se werk in verband gebring nie. Want hierdie dinge is die belangrikste geestelike steunpunte in ’n mens se lewe wat ware vreugde waarborg. Wanneer jy begin verstaan dat God met jou vrede gesluit het nadat Hy met jou sondes afgereken het, kom daar ’n nuwe soort blydskap oor jou. En wanneer jy besef dat sy Gees dag en nag by jou is, groei vrede in jou hart. Maar die belangrikste: Wanneer jy leer om elke dag alles van God te verwag, deel Hy persoonlik sy vreugde en vrede aan jou uit.
’n Mens kan nooit God se vreugde naboots nie. Nee, jy kan dit maar net elke dag uit sy hand as ’n geskenk aanvaar. En dit ook reg gebruik. Want vrede en vreugde is ten diepste ’n geskenk van Bo. Gaan neem asseblief vandag jou hemelse geskenk in ontvangs. Ontvang God se vreugde!
Here, leer my om u vrede te ontvang en te gebruik.
Stephan Joubert