Lees Nehemia 8:1-7.
Esra het die Here, die grote God, geprys en die hele gemeente het met die hande omhoog geantwoord: “Amen, amen” (v 7).
Lof is ’n basiese bestanddeel van ons geloof. Altans, dit is veronderstel om die hartklop daarvan te wees. Geloof gaan mos nie oor wat God alles vir my kan doen nie. Hy is tog nie in my diens nie. Nee, geloof gaan oor Hom. Altyd. Dit gaan oor die verheerliking van sy Naam. Hy het my gered om Hom te loof en prys, nie sodat ek heeltyd bakhand voor Hom moet staan met al my derduisende gebedsversoeke nie. Ja, natuurlik mag ek by God gaan vra om te help as ek in ’n krisis is. Natuurlik mag ek dinge van Hom afbid. Maar as my gebede heeltyd net soos ’n kruidenierslysie lyk, is daar groot fout. Dan trek dinge lelik skeef. Dan misbruik ek my geloof tot my eie voordeel.
My gebede moet in die eerste plek lofuitings aan God wees; dankies uit die diepte van my hart vir al sy goedheid, sorg en deernis. Verder moet my saamkomste met ander gelowiges nog meer omskep word in lofgeleenthede, soos wat Nehemia en die volk gedoen het. Ons moet God loof en prys met ons stemme en gebede. God se mense moet ’n magtige koor van lof wees wat God se Naam hoog hou.
Sing jy gereeld in die Here se lofkore? Is jou gebede vol lofuitings? Bestee jy baie van jou stiltetyd en saamweestyd met ander gelowiges aan die grootmaak van God se wonderlike Naam? Wel, hoekom nie? Het jy regtig ’n goeie verskoning?
Here God, ontvang die lof wat ons aan U bied.
Stephan Joubert