Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Altyd nog ’n kans vir lof

Lees Genesis 29:31-35.

“Hierdie keer prys ek die Here” (v 35).

Dit moet verskriklik wees om in ’n liefdelose huwelik vasgevang te wees. Lea, een van die vroue van Jakob, was so iemand. Hy het haar nie liefgehad nie, want sy was nie sy keuse as vrou nie. Eintlik het haar pa, Laban, haar met ’n kulkunsie aan Jakob gegee. Daarom was hulle twee so half en half met mekaar opgeskeep.

Gelukkig sien God mense se omstandighede raak – ook hulle seerkry en hartseer. Daarom dat die Here vir Lea geseën het met kinders. Haar kinders se name het iets van haar smart verwoord, maar ook iets van die Here se goedheid. Veral Lea se vierde kind was ’n pryslied aan God. Toe hierdie seuntjie die lewenslig gesien het, was hy “Juda”, die een oor wie ’n mens God net kan prys.

God se goedheid kos ons partykeer jare om raak te sien. Lea moes wag vir ’n vierde kind voordat sy haar hartseer liedere kon verwissel vir lofprysing.

Daar is gelukkig nog genoeg kans oor vir lof in jou lewe. As jy tot nou toe net klaagliedere gesing en geleef het, is dit hoog tyd vir lof. Dit is tyd dat jy begin sien hoe goed God vir jou is. En dat jy daaroor sing. Verander vandag nog die woorde wat oor jou lippe kom in lof. Kyk mooi totdat jy God se genade in jou lewe raaksien, en loof Hom daaroor. Hou aan totdat die redes vir lof daardie donker kolle in jou lewe waaroor jy so kla, begin oorskadu. Vandag is jou dag vir lof!

Here Jesus, ek loof U vandag vir u goedheid!

Stephan Joubert

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.