Lees Nehemia 12:38-43.
Daar is daardie dag baie offers gebring. Die mense was bly. God het hulle groot blydskap gegee ( v 43).
Vreugde moet iewers uiting vind. Die heel beste plek is gewoonlik oor jou lippe. Kyk maar net hoe reageer mense wat verskriklik bly is. As jy tussen ’n klompie sportgeesdriftiges op ’n pawiljoen sit en hulle span teken punte aan, sien jy vreugde in aksie. Dan sien jy mense wat ronddans van vreugde en wat mekaar omhels. Vreugde kan nie weggesteek word nie. Dis altyd tasbaar, hoorbaar.
Vreugde het oor Jerusalem gespoel toe die stadsmuur ingewy is. Na al die swaarkry en krisisse was die muur uiteindelik klaar. God het die oorwinning gegee wat Hy beloof het. Die teenstanders het gefaal in hulle planne om hierdie werk in die wiele te ry. Nou was dit feestyd in Jerusalem. En feesviering vra ook om musiek. Daarom is reusekore en orkeste gou-gou op die been gebring. Hierdie kore het al langs die mure geloop en God geprys. Offers is ook gebring, terwyl oud en jonk, mans en vroue, God geloof het. Almal was so bly dat jy hulle vreugde selfs tot ver buite die stad kon hoor.
God se mense moet meer feesvier. Ons is veels te bedruk, te somber. Ons eredienste moet oorwinningsoptogte in die Naam van Jesus wees. Ons byeenkomste moet bruis van lof en blydskap, want ons dien die Oorwinnaar, die Een wat al die mag in sy hand vashou. Ook in ons eie lewe moet vreugde wen. Want God maak dit feestyd in ons harte. Daarom kan ons gereeld lofliedere sing!
Christus, ek loof U. Ek sing oor u triomf!
Stephan Joubert