Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Haal uit jou feesklere

Lees Jesaja 52:1-10.

Hoor, jou wagte roep hard … want hulle sien dat die Here na Sion toe terugkom (v 8).

Partykeer moet mens feesvier. Wanneer iets goeds gebeur, dalk ’n kind wat ’n belangrike eksamen slaag, of ’n vriend wat ’n goeie bevordering kry, dan moet daar feesgevier word. Dan moet almal sing en bly wees. Die Here sê dat sy volk egter ’n beter rede het om fees te vier. Want Hy is op pad terug na Sion toe. In daardie tyd toe die Israeliete ballinge in ’n vreemde land was, was hierdie woorde seker soos musiek in hulle ore. Hulle het gehoor dat God op die punt gestaan het om hulle terug te lei na hulle grond toe. Daarom was dit tyd om rouklere te verruil vir feesklere. En om lofliedere te begin sing.

Goeie nuus is maar skaars in ons tyd. Meestal hoor ons net slegte nuus. Orals om ons is dit net moord en doodslag. Wel, God kondig deur sy dienaar Jesaja ook ’n stukkie goeie nuus vir ons aan. Luister maar net mooi, dan hoor jy steeds die voetval van diegene wat goeie nuus aandra. Waar hoor jy hierdie nuus? In die kerk, natuurlik. Net so ’n entjie noord van God se moderne boodskappers se voetval klink die goeie tyding op: “God is Koning.”

Te midde van al die chaos rondom jou is daar Een wat steeds aan die stuur is; Een wat die wêreld beheer: God! Hy bring steeds uitkoms. Sondae in die kerk sein Hy goeie nuus aarde toe wat vir jou bedoel is. Trek vir jou feesklere aan en gaan luister Sondag met gespitste ore hierna. Vier fees saam met almal vir wie dit bedoel is.

Here, dankie vir Sondae se fees in die kerk!

Stephan Joubert

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.