Lees Psalm 67.
Mag al die volke U loof, o God, mag alle volke U loof! (v 4).
Wat ’n wonderlike lied het ons nie hier in Psalm 67 nie! Dit is ’n gebed om Goddelike seën en ontferming. Die psalmskrywer bid dat die reddende hand van God op die toneel sal verskyn om sy mense tot heil te wees (v 2). Hoekom? Sodat God se almag oor die hele aarde bekend sal word en almal sal weet van die magtige God van Israel (v 3). God is nie net ’n bepaalde volk se God nie. Hy is die Here van die nasies, die Heerser oor die ganse aarde. Daarom is dit die gebedsversugting van die psalmskrywer dat die hele wêreld tot kennis van die lewende God sal kom en dat hulle kennis van God hulle tot lof en aanbidding sal bring. Hulle moet in ’n geloofsverhouding met Hom kom staan wat hulle ganse lewe sal verander en nuwe woorde van lof en aanbidding op hulle lippe sal plaas (v 4-6).
Gelukkig hoef die psalmskrywer nie te wag vir God se ingrype in ander mense se lewe om sy goedheid te bevestig nie. Dit is reeds te sien in die Goddelike seën reg rondom hom. As hy na die landerye kyk, is daar ’n ryk oes. Daar is oorgenoeg kos vir almal. Mense kan God se seën op ’n tasbare manier sien en proe! Daarom kan die skrywer nie anders nie as om in lof uit te breek oor God se absolute goedheid. God moet geëer word. Almal oor die hele aarde moet deel word van hierdie reusekoor wat sy Naam jubelend besing.
Almagtige Here, ek is deel van die koor wat U besing.
Stephan Joubert