Lees 2 Samuel 5:17-25.
Dawid het gemaak soos die Here gesê het (v 25).
Anders as sy voorganger, Saul, het Dawid na die Here geluister. Hy het nie sy eie kop gevolg nie, maar God se wil gesoek wanneer hy moes gaan veg. Dit was sy redding. Gehoorsaamheid aan God betaal altyd! So belê jy jou lewe by die hemelse bank.
Gehoorsaamheid aan God is ’n leefwyse. Dit begin wanneer jy in die oggend jou hand in God se Vaderhand plaas en Hom vertrou om deur die loop van die dag vir jou die regte pad aan te wys. Gehoorsaamheid word sigbaar wanneer ’n versoeking jou lewenspad kruis en jy die rug daarop draai. Natuurlik is dit maklik om te steel of te vloek as almal rondom jou dit doen. Maar jy verheerlik God wanneer jy sy pad kies en nie soos al die ander die pad van sonde volg nie. Dan staan jy sterk wanneer God dit van jou vra.
Luister jy elke dag na God se stem? Kan Hy op jou nommer druk in die hitte van die stryd? Staan jy enduit op jou pos? Begin van nou af om ’n steunpilaar in God se ryk te wees. Stap elke dag op God se pad. Kies om sy voltydse verteenwoordiger by jou werk en by jou huis te wees.
Ek loof U, Here, dat U my lei om u wil te doen.
Stephan Joubert