Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Dans voor die Here

Lees 2 Samuel 6:12-23.

“Ja, voor die Here sal ek dans” (v 21).

Toe dans koning Dawid halfkaal voor die Here! Saul se dogter Mikal was geskok oor sy optrede. Sy het nie mooi besef hoekom hy dit doen nie. Toe sy Dawid later smalend berispe oor sy “onwaardige” optrede, het hy vir haar gesê dat sy vreugde en uitbundigheid nie ’n poging was om die aandag op homself te vestig nie. Hy het tot eer van sy groot God gedans.

Ons is soms net te gereserveerd in ons godsdiens. Emosie moet sover moontlik beperk word. Van kleins af word ons geleer om stil te sit en stil te bly in die kerk. Lag is verbode; vriendelikheid ook. Wel, as ons na Dawid kyk, lyk dit asof ons verkeerd is. Iewers mis ons die punt met ons hipervroomheid. Op ’n dag moet ons al ons inhibisies oorboord gooi en opgewonde raak oor God. Ons moet met woord en daad feesvier oor God se ongelooflike grootheid­. Dalk moet ons weer die ritme van Goddelike genade in ons voete en hande begin voel.

Sing van nou af lofliedere voor God. Wees opgewonde oor sy nabyheid. Jubel oor sy magtige dade. Verhef jou stem oor sy heiligheid. Dans en wees bly omdat die Here jou geroep het om sy kind te wees. Maak jou godsdiens ’n groot fees!

Here, ek wil sing en dans oor u grootheid.

Stephan Joubert

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.