Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Wees bly, al gebeur wat

Lees Habakuk 3:17-19.

Al sou die vyeboom nie bot nie … nogtans sal ek in die Here jubel (v 17-18).

Die woorde van Habakuk 3:17-19 word in baie van ons kerke gesing. Baie van ons ken dus die woorde. Dit het die nadeel dat ons nie altyd die diepte en krag van sekere woorde ernstig genoeg opneem nie.

Om seker te maak dat Habakuk 3 se woorde tot jou deurdring, moet jy die verse rustig deurlees. Oordink dan elke reël, elke sin. Wat beteken die profeet se woorde wanneer hy sê dat hy in die Here sal jubel al sou die vyeboom nie bot nie, al sou die olyfoes en die graanoes misluk, en al sou die kleinvee en beeste doodgaan? Met ander woorde, as daar nie ’n krieseltjie kos iewers in die land oor is nie, sal hy nogtans aan God vashou. Hy sal bly wees en jubel!

Habakuk sê ook dat hy in krisistye juig oor God wat hom red. Hoekom sê hy dit? Want God gee vir hom nuwe krag. Hy laat sy dienaar op gevaarlike plekke vlugvoetig rondbeweeg. Op die gevaarlikste terreine denkbaar is mense wat aan God vashou steeds veilig.

Is Habakuk 3 ook jou belydenis? Kan jy dit met vrymoedigheid agterna sê en agterna sing? As God jou Redder is, is daar geen rede waarom jy dit nie kan doen nie. Hy is jou daaglikse Gids, jou Herder, jou Rots en jou Redder!

Here, U laat my veilig leef.

Stephan Joubert

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.