Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Laai jou tong vandag propvol lof

Lees Deuteronomium 32:1-21.

“Ek wil die Naam van die Here roem” (v  3).

Laai vandag nog die woorde van Moses se aangrypende lied op jou lippe. Moenie die lewe binnestorm met ’n ongetemde tong nie. Gaan sit eers elke oggend ’n rukkie by die Here en kyk saam met Hom na jou dag. Vra God om jou tong te laai met woorde van lof en aanbidding wat sy hart sal bly maak. Dan is jy nie ’n slagoffer van daardie kwetsende woorde wat mense vandag maar weer op mekaar gaan loslaat nie. Dan gaan jy nie, soos baie rondom jou, in woede reageer, kwaadpraat of agteraf skinder nie, want dan het jy mos in die Here se Naam beheer oor wat jy dink en sê.

Jy leef die lewe reg as jy altyd dink wat jy doen en sê! Begin elke oggend op dié manier deur lofliedere te sing en loftaal met God te praat. Kies ook om deur die loop van elke dag aanhoudend die regte treë Godwaarts te gee. Wees versigtig met jou gedagtes, jou woorde en dade. Wees in beheer hiervan soos die Here van jou vra. Dan bepaal ander mense nie meer jou emosies en reaksies nie. Dan leef die lewe jou glad nie op nie, nee, dan is jy in die Here se hand!

Sing oor God. Dink saam met Moses oor al sy groot dade. Sing oor sy redding. Vul jou lewe met sy triomf. En bly weg van wat verkeerd is. Kies vir ware lewe en leef.

Laat my woorde ’n offer aan U wees, Here.

Stephan Joubert

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.