Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Sing vir die Here

Lees 1 Kronieke 16:1-36.

Sing liedere, sing tot sy eer (v 9).

Soms is ek baie bewus van my swakheid. Wanneer ek oor ’n klip in die lewenspad val, besef ek opnuut dat ek breekbaar is. Ek is immers maar net ’n bietjie stof en asem. Tog is daar ’n kosbare skat in hierdie ou breekbare kleipot van my weggepak. Ek is regtig nooit alleen nie. Die Here is by my omdat Jesus die Here van my lewe is. God is altyd my enigste Rykdom, my Goud, my Silwer, my LEWE.

As ek klein is – God is baie groot. As ek swak is – God is oneindig sterk. As ek wankel – God is elke keer my Rots. As ek val – God staan keer op keer sterk. Wat ’n wonderwerk: klein en GROOT vir altyd bymekaar – swak ekke en die almagtige God!

Wat ’n genadewerk dat Christus my ook ’n kind van ons hemelse Vader gemaak het. Dis Hy wat elke keer buk om my op te tel wanneer ek neerslaan. Ek weet God laat my nooit op my eie nie. Daarom kan ek enduit vorentoe stap saam met die sterkste Een in die heelal, die almagtige God! Daarom dat ek vandag saam met Asaf en die tempelsangers wil sing oor my groot God. Ek wil sy heilige Naam loof en hardop uitbasuin hoe goed Hy is. Daar is niemand soos Hy nie. Hy alleen is God. Sy reddingsdade eggo oor die ganse aarde. Hy is vir ewig getrou aan sy Woord. Aan sy liefde is daar geen einde nie. Daarom is dit vandag tyd vir ’n nuwe lied in my lewe, ’n loflied!

Here, ek besing u grootheid en almag.

Stephan Joubert

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.