Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Sing ’n loflied tot God se eer deur Hom te vertrou

Lees 1 Kronieke 29:1-30.

“Aan U, Here, behoort die heerskappy; U is bo almal verhewe … U heers oor alles” (v 11-12).

Nadat Dawid al die skenkings vir die bou van die tempel ingesamel het, het hy in die teenwoordigheid van al die belangrike leiers van die volk ’n dankgebed tot God gerig. Dawid het geweet dat lof aan God die gelowige se belangrikste taak en roeping hier op aarde is. Dit dryf al die donker rondom ons in ’n oogwink weg. Iemand sê onlangs vir my dat die toekoms donker lyk. Toe vra ek: “Bedoel jy die toekoms oor ’n week van nou af? Of die toekoms oor ’n paar jaar? Want ons beleef nou daardie toekoms waaroor ons ons tien jaar gelede bekommer het!” Tog leef ons. Verstommend! Dis aan God te danke! Hy is getrou! Hy sorg. Onthou jy hoe jy jou ’n paar jaar gelede oor jou toekoms bekommer het? Wel, is jy sonder kos? Nie? Is daar genoeg warm komberse vir jou bed? Ja! Gaan jy genoeg geld vir die volgende maand of twee hê? Ongetwyfeld! Nou sê my, waarom bekommer jy jou? Dis ’n mosie van wantroue in jou hemelse Vader!

Kyk vandag gelowig rondom jou, dan sien jy dat jy in die Here se magtige hand leef. Jy is in die greep van hemelse genade. Hy wat jou opgetel het toe jy so ver geval het, dra jou vandag nog. In die toekoms sal die Almagtige jou ook dra. Vertrou op God en sing ’n nuwe loflied.

Dankie, Here, dat die sluise van die hemel bokant my oop is.

Stephan Joubert

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.