Lees 2 Kronieke 20:1-37.
Juis toe, toe die sangers met die lofprysing en gebed begin, het die Here onverwagte aanvalle bewerk (v 22).
Koning Josafat van Juda was ’n man van die Here. Hy het op God se pad gestap. Daarom dat hy ook God se aangesig kom soek het toe ’n reuseoormag teen hom opgestaan het. Hy het geweet hy kon nie teen die vyandelike leërs staande bly sonder God se hulp nie. Josafat het sy toevlug geneem tot God en daar in die tempel voor God in gebed neergebuig. Hy het God gesmeek om te kom help. Die hele volk was ook daar om voor God te kom buig.
Ná hierdie aangrypende byeenkoms is Josafat na die gevegsfront. Hy het die sangers voor sy soldate laat stelling inneem, met hulle amptelike klere en al. Toe hulle in die hitte van die stryd begin om God te loof en Hom in gebed aan te roep, het God aan hulle die oorwinning geskenk. So ’n groot oorwinning was dit dat die soldate drie dae lank buit opgetel het. Op die vierde dag het hulle by Lofdal saamgetrek om aan God al die eer te gee vir die oorwinning.
God veg anders as die wêreld. Sy oorwinnings kom op onortodokse maniere. Wanneer sangers en bidders in die voorste linie is, stuur Hy die oorwinning. Wanneer mense uitroep dat Hy geloof moet word en dat daar geen einde aan sy liefde is nie, skenk God oorwinning. God se mense is deel van ’n singende, biddende weermag. Sluit aan by hierdie leër en wen!
Leer my om reg te sing en te bid, o Heer.
Stephan Joubert