Lees 2 Kronieke 22:1-12.
Die Here het vir Jehu aangewys om die koningshuis van Agab uit te roei (v 7).
Wanneer ek lees van Ahasia en Agab se skandes, besef ek dat goddeloosheid so eie aan die mensdom is as wat kan kom. Mense wil nie voor God buig nie. Mense wil konings en koninginne wees voor wie ander buig.
Wat kan ek en jy doen om die slagoffers van sonde en losbandigheid te help? Die oplossing begin sommer hier op jou lippe. Doop jou tong in die Bybel. Vertrou jou lippe daagliks toe aan die Heilige Gees, dan sal jou woorde altyd met silwer omraam wees. Keer ander se woede met sagte taal. Durf nors gesigte met liefdevolle woorde aan. Gee komplimente waar dit nodig is. Praat hooplose mense moed in.
Moenie bang wees om mense wat droogmaak aan te spreek nie. Moenie agteraf skinder nie. Wees eerlik. Sê met die liefde van die Here vir droogmakers dat hulle moet doen wat God vra. Hou aan, al moet jy soms kwaai wees, soos 2 Timoteus 4:2 van jou vra.
Natuurlik kos dit elke dag baie moed om stroomop God se soort taal op jou tong te laai. Maar onthou: Al bewe jou knieë partykeer, bewe die Rots waarop jy vandag en elke ander dag staan nooit. Praat goeie, wyse woorde met ander oor die Here, al is dit net ’n paar woordjies op ’n slag. Vra die Here om jou tong met die regte taal te laai. Laat dan die res oor aan Hom.
Here, neem my tong in u diens.
Stephan Joubert