Lees Prediker 2:24-26.
Wie kan eet, wie kan geniet as Hy dit nie moontlik maak nie? (v 25).
Nadat die Prediker elke moontlike leefroete getoets het, het hy tot die skokkende ontdekking gekom dat die lewe sinloos is, ’n dolle gejaag na wind. En kyk wat het hy nie alles probeer nie: Hy het by wysheid begin. Daarna het hy gekies vir plesier, tonne daarvan. Toe het hy op ’n goeie dag ontdek dis alles sinloos, ’n leë gejaag na wind. Hierna het die Prediker gekies vir drank. Toe hy tot sy skok agterkom dat sy probleme kan watertrap, het hy gekies vir geld, mag en beheer. Die resultaat was dat hy die magtigste, rykste en invloedrykste persoon in Jerusalem geword het. Om sy “oorwinnings” te vier, het hy talle mooi meisies gekry met wie hy die lewe kon geniet. Praat van ’n flambojante lewe! Maar op ’n dag het hy daaroor gaan nadink en besef dis alles net ’n groot gejaag na wind. Tragies, maar waar.
Die Prediker se moed was in sy skoene nadat hy al die lewenspaaie bewandel het sonder om geluk te vind. Maar toe, uit die bloute, ontdek hy God se pad. Hy het geluk gevind aan God se voete. Meer nog, hy het besef dis ’n stil pad, ’n eenkantpad. Hierdie pad is net vir die genadebedelaars bedoel, vir mense wat na ware geluk smag. God self gee geluk aan diegene wat aan sy voete sit. Hy alleen deel hemelse troos uit. Kom haal jou porsie vandag nog.
In opregtheid dank ek U vir elke stukkie genadebrood, my Heer.
Stephan Joubert