Lees Prediker 9:8.
Dra altyd wit klere (v 8).
Wit klere in die Bybelse tyd was feesklere.
Die mense was in daardie tyd bitter arm. Baie het net een stel werkklere en een stel feesklere besit. Wanneer jy dus jou wit klere aantrek, weet almal iets is aan die gebeur. Iewers is daar ’n fees aan die kom.
Die Prediker se raad is dat ons dié klere elke dag moet aantrek. Ons moet die aard, inhoud en datum van die fees bepaal. Ons lewe moet dag na dag uitroep dat daar ’n nuwe fees aan die kom is, 365 dae per jaar. Elkeen wat binne trefafstand van ons af is, is die genooides na hierdie spoggeleentheid. Hulle moet kom deel in ons vreugde.
Hoekom kan ons elke jaar 365 dae lank feesvier? Want ons glo in Christus. Ons behoort eksklusief aan Hom. En ons name staan opgeskryf in die boek van die lewe. Asof dit nie genoeg rede vir ’n groot daaglikse fees is nie, voorsien ons hemelse Vader in al ons daaglikse behoeftes. Hy beloof brood, maar inderwaarheid oorlaai Hy ons tafels elke dag met lekkernye. Ons bekers loop oor.
Daarom is dit feestyd. Kondig dit sommer vandag al aan. Deel hierdie vreugde met jou kollegas, vriende en familie. Laat jou klere, jou gesig, ja, jou hele lewe wys dat dit feestyd is. Leef vreugdevol. Nooi die Here elke dag as Eregas na jou lewensfees toe.
Here, laat my lewe vandag ’n fees wees.
Stephan Joubert