Lees Amos 6:5.
Julle maak liedjies vir die harp (v 5).
Dinamiese Christenkunstenaars skep deesdae eietydse, Skrifgetroue en singbare Christelike musiek wat wyd inslag vind en deur miljoene Christene gebruik word tydens hulle byeenkomste. Kerke met ’n geslote liederebundel wat net amptelik goedgekeurde liedere mag sing, verloor baie as hulle nie hiervan kennis neem nie.
Eietydse Christelike musiek bestaan uit ’n groot verskeidenheid style of genres. In die geheel gesien, is een van die kenmerke in huidige Christelike musiek ’n terugkeer na eenvoudiger, maklik singbare melodieë wat aanklank vind by die wêreld van ons dag. ’n Nostalgie is ook te bemerk in eietydse Christelike musiek. Die psalms en ou bekende Christelike liedere word herontdek en oral gesing. Vandag se generasie loop terug op die spore van die kerktradisie, maar dan op hulle eie manier!
Ten spyte van die groot oplewing in Christelike musiek moet daar gewaak word teen ’n oorbeklemtoning van die vorm, die musiek en die inhoud sonder dat ons hart daarin is. Amos waarsku ook teen geestelike musiek sonder die Gees. Dan is dit alles net woorde wat mense verheerlik, nie vir God nie.
Here, laat ons musiek regtig u lof besing.
Stephan Joubert