Lees Esra 3:11.
Hulle het die Here begin loof en dank (v 11).
Om God te loof, is die hoogste eer wat ’n sterflike mens ooit aan Hom kan bied. Lof is die manier waarop ons sê dat alles van Hom af kom; dat Hy en Hy alleen die Gewer van alle goeie gawes is en dat ons dit maar net uit genade van Hom ontvang.
Die Israeliete wat teruggekeer het na Jerusalem, kon nie anders as om in lof uit te breek toe hulle die fondamente van die tempel weer opgebou het nie. Dit was ’n geleentheid vir feesviering, daarom het al die musikante nader gestaan en almal het ingeval om die woorde van Psalm 136 saam te sing: “Want Hy is goed, aan sy liefde vir Israel is daar geen einde nie.”
Uiteindelik het daar weer lofliedere in Jerusalem opgeklink. Nadat God se tempel baie lank in puin gelê het, was dit nou weer tyd vir lofliedere en feesviering. Want God was goed vir sy mense. Hy het sy hand groot oopgemaak oor hulle. Daarom kon hulle nie anders nie as om te sing en Hom uitbundig te loof.
Is daar vandag ook lofliedere op jou lippe? Loof jy die Here vir sy ongelooflike goedheid in jou lewe? Is jy tot oorlopens toe vol lof oor sy seën wat tans op jou reën? Wel, begin dan ’n slag jou seëninge tel. Hou aan, een vir een, totdat jy nie anders kan as om die Here te loof en prys nie. Want Hy is ongelooflik goed vir jou. Hy oorlaai jou vandag met baie seëninge waarvoor jy Hom kan en moet loof!
Here God, ek loof U uitbundig vir al u goedheid.
Stephan Joubert