Lees Filippense 4:4.
Wees altyd bly in die Here! (v 4).
Ons hou van humor op die TV, by die werk of tussen vriende rondom braaivleisvure. Blydskap is ’n noodsaaklike deel van ons lewe. Navorsers beweer dat mense wat gereeld lag langer leef en ook minder stres het as die res van moederaarde se suurknolle. Om te lag maak baie van die probleme ligter wat ongenooid op ons nek lê. Ons as gelowiges moet daarom meer geleenthede skep om vrolik te wees. Ons mag nie vreugde en lag prysgee aan al daardie skurwe komediante nie. Ons dien immers ’n God van vreugde. In sy koninkryk triomfeer blydskap, nie droefheid nie. Daarom dat Paulus ons vandag ernstig oproep tot blydskap.
Jare lank was dit taboe om selfs ’n grappie te maak in godsdienstige kringe. Mense het gedink hulle moet met ernstige gesigte in die kerk sit. Dan is dit mos tyd vir ernstige sake. Nou ja, natuurlik gaan dit in die kerk oor belangrike dinge, maar dit beteken nie dat humor verbode is in ons godsdienstige lewe nie. Dit duik gelukkig vanself hier op. Iemand vertel hoe ’n moedelose ma van ’n baie besige kleuter hom uiteindelik gryp en uit die kerk uit sleepdra. Net voor die deur sê hy grootoog vir die mense langs die paadjie: “Bid vir my!”
Wees vandag bly. Jy staan immers aan die wenkant. Jou God het klaar gewen, en Hy gaan weer wen. Verklaar vandag tot ’n feesdag!
Here, ek is so bly ek behoort aan Jesus!
Stephan Joubert