Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Sê dankie met ’n loflied

Lees Kolossense 1:3.

Wanneer ons tot God, die Vader van ons Here Jesus Christus, bid, dank ons Hom altyd vir julle (v 3).

Paulus het gereeld vir God dankie gesê vir die goeie dinge wat Hy besig is om te doen in die lewe van sy kinders. Hy het nie net gefokus op alles wat verkeerd is in die kerk nie. Paulus het nie om elke hoek en draai foute uitgesnuffel nie. Inteendeel. Hy was blitsvinnig om geestelike groei raak te sien. Hy was sensitief vir geestelike vooruitgang en al die nuwe bewegings van God se Gees. Daarom dat hy so vinnig vir God kon dankie sê vir mooi dinge wat aan die gebeur was op die Christelike front. Daarom dat hy so dikwels kon feesvier en lofliedere sing oor God se genade in gewone mense se lewe.

Ook in die gemeente in Kolosse, waar Paulus self nog nooit eens was nie, was daar oop hande en oop arms vir God se werk. Toe Paulus hiervan te hore kom, kon hy nie anders nie as om te skryf en dankie te sê vir al God se goeie werke. Trouens, Paulus se brief jubel oor God se goedheid. Hy kan nie anders as om dankliedere tot eer van sy groot God te sing nie.

Kyk ’n slag na al die goeie dinge wat God besig is om in jou en rondom jou te doen. Sien die delikate bewegings van sy Gees raak en loof Hom gereeld daarvoor. Kyk asseblief ’n slag by al die foute van die kerk en van jouself verby, en loof God oor sy goedheid wat in die kerk en in jou lewe invloei!

Here, ek sien u goedheid oral rondom my.

Stephan Joubert

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.