Lees Psalm 150.
“Laat alles wat asem haal, die Here prys!” (v 6).
Almal wat met God wandel, is groot nuus in die hemel. Hulle is mense na God se hart. Vir hulle wag daar ’n feestelike ontvangs in die hemelse troonsaal. Wie is hierdie mense? Dit is hulle wat in die orkes van Psalm 150 speel. Hulle stap lewenslank op die regte pad. So opgewonde is God oor hierdie orkes van Hom dat Hy elkeen wat hierin speel eendag self sal kom haal. Gelukkig is hierdie mense wat God dag en nag loof nie net hoofnuus in die hemel nie, maar ook hier op die aarde! Baie mense kom agter met hoeveel deernis God sy getroue dienaars behandel wat Hom staande toejuig met trompette, liere, tamboeryne en siters.
God se geloofshelde tree nooit werkloos af nie. Die Allerhoogste stoot hulle nie opsy om nutteloos oud te word nie. Die waarde van God se helde neem by die dag toe. Hulle word met verloop van tyd al hoe meer spesiaal, want hulle speel al hoe beter in die aardse loforkes tot eer van God. Daarom dat God vir hulle ’n spesiale fees voorberei in sy hemelse troonsaal. Daarom dat Jesus hulle kom haal as hulle hemelse woonplek gereed is.
Kry dus jou eie lewe in orde; begin sommer vandag om die regte musiekinstrumente tot eer van God te speel. Stap van nou af baie naby aan Hom. Loof Hom oral waar jy kom. Dan wag die hemel op jou, want daar word tans van jou kennis geneem!
Ek is deel van die skare wat U loof, o God.
Stephan Joubert