Lees Lukas 23:50-56.
Die vroue wat saam met Jesus van Galilea af gekom het, het saamgeloop en die graf gesien (v 55).
Lukas vertel vir ons van ’n klompie vroue wat enduit op Jesus se hakke gebly het. Ons lees in Lukas 8:1-3 van vroue wat Jesus met hulle aardse besittings gedien en saam met sy dissipels rondbeweeg het.
Anders as Judas en Petrus, het hulle Jesus nie in die steek gelaat tydens sy lyding nie. In Lukas 23:49 lees ons dat hulle die kruisiging en sterwe van Jesus op ’n afstand dopgehou het. Enduit en getrou! Met Jesus se sterwe was die vroue ook daar om te kyk waar sy liggaam begrawe is. Nog meer, hulle was ook die eerste getuies van die leë graf (24:1-7). Ongelooflik!
Vroue speel ’n sleutelrol in die kerk. Te maklik blaai ons by hierdie fenomenale vroue in die Lukasevangelie verby en kyk net na die mans se groot geloofsdade. Maar dit is juis by hierdie vroue dat ons leer van volharding, opoffering en geloofsmoed. Hulle het enduit getrou aan hulle Heiland gebly. Hulle het nie teruggedeins toe die gevaar gekom het nie.
Daarom dat die vroue so bevoorreg was om eerste te kon ervaar dat Jesus uit die dood opgestaan het. Wat ’n ongelooflike voorbeeld vir jou en my om na te volg. Ons moet by die vroue van Galilea leer van volharding en geloofsmoed. By hulle moet ons opnuut hoor dat dit oor en oor die moeite werd is om heelpad agter Jesus van Nasaret aan te kom.
Jesus, maak my ook so getrou aan U.
Stephan Joubert