Kennis maak verwaand, maar liefde bou op (1 Korintiërs 8:1, Direkte Vertaling).
In een van sy vele meditasies maak die leier van die bekende Taizé-gemeenskap ʼn stelling en voeg ʼn uiters belangrike vraag daarby.
Dié stelling bevestig die waarde van wetenskap en tegnologie en lui: “Die onuitputlike moontlikhede van die wetenskap en die tegnologie help ons vandag om lyding te versag en hongersnood te verlig. Tog, hoe onmisbaar hulle ook al is, is hierdie kragtige middele in hulleself nie genoeg nie.”
Daarom die vraag: As ons een oggend sou wakker word in ʼn samelewing wat net funksioneel en tegnologies doeltreffend is, maar waarin die vertroue van geloof, die intelligensie van die hart en ʼn dors na versoening ontbreek, watter soort toekoms sou die mensdom dan binnegaan?
Tereg herinner Teilhard de Chardin, die bekende Katolieke geestelike, ons daaraan dat die eintlike krag wat alles aan die gang gesit het en wat steeds, soos vuur, alles deurdring en bymekaarhou die liefde is. In sy woorde: “Love is the physical structure of the universe.”
Hierna veral moet ons op soek bly.
Here, terwyl ons die waarde van menslike kennis erken, wil ons bid: Help ons om te midde van voortuitgang steeds liefde en respek vir alles en almal te behou. Amen.
Carel Anthonissen