Die Here se hart is baie sag. Hy gee graag goeie dinge aan ons. Hy is geduldig. Hy het sy kinders baie lief – Psalm 103:8 (Die Boodskap).
Ek lees van ’n gesin met twee babas wat deur Italië gereis het. Hulle het hul tyd so probeer indeel dat die kleingoed nie moeg en honger word nie.
Die dag met hul besoek aan Assisi, die woonplek van St Francis, verloor hulle egter tred met tyd. Teen laatmiddag was albei babas uitgeput en aan die huil. Die ouers besluit om vinnig iets by ’n restaurantjie te eet voordat hulle die drie uur lange rit na Florence aanpak. Hulle soek ’n wegsteekhoekie waar hulle die ander gaste die minste sou pla. Die eienaar gee hulle egter net een kyk en verdwyn in die kombuis. Kort hierna kom sy vrou en kombuishulp met oop arms aan. Met die uitroep: “A! Bambini!” neem hulle die huilende babas by hul ouers. Die res van die aand sus en troos en versorg die vroue die kleingoed en sing hulle selfs aan die slaap.
Die ma het vergeet wat hulle daardie aand geëet het. Sy onthou egter die wydoop arms en onvoorwaardelike goedgesindheid.
Psalm 103:8 lyk só in die 1983-vertaling: “Barmhartig en genadig is die Here, lankmoedig en vol liefde.” In die 1933/1953-vertaling word vol liefde vervang met groot van goedertierenheid.
Dit herinner aan die woorde van die Dalai Lama: “My godsdiens is baie eenvoudig. My godsdiens is goedertierenheid.”
Here, maak my oë oop om geleenthede raak te sien waar ek u goedertierenheid kan uitleef. Amen.