“Gelukkig is almal wat van God se goedheid en sorg afhanklik is. Hulle sal definitief ’n plek kry in sy nuwe wêreld” – Matteus 5:3 (Die Boodskap).
Die oorspronklike Grieks van bogenoemde lui: “Gelukkig is die armes in die gees, met ander woorde dié wat nie vol van hulleself is nie.” Dit gaan in die eerste plek om afhanklikheid van God. Maar dit gaan eintlik om baie meer. Die persoon erken sy of haar eie ontoereikendheid en leef nie met die houding: Ek het niks of niemand nodig nie.
’n Afgetrede predikant stel dit só in een van sy dagboeke: “Die huisbesoeke, pastorale besoeke, problematiese besoeke waarteen ek die meeste opgesien het, het dikwels die maklikste verloop. Rede: Vir hulle het ek die meeste voorbidding gedoen; die meeste in afhanklikheid van Hom opgetree. So is dit ook met my eie probleme, bekommernisse en krisisse.”
Om te sê dat ek afhanklik van God is, beteken dat ek gestroop voor God staan met niks om aan te bied nie! Ek is in myself eenvoudig, hulpbehoewend en bankrot. Eers wanneer ek weet hóé afhanklik ek van God is, kan ek begin verstaan wat ’n geseënde en gelukkige lewe beteken.
Mense wat van God afhanklik is, vertrou Hom. Hulle hou vas aan die belofte: “Gelukkig is almal wat van God se goedheid en sorg afhanklik is. Hulle sal definitief ’n plek kry in sy nuwe wêreld.”
Here Jesus, dankie dat U in Matteus 5:3 belowe dat dié wat weet hoe afhanklik hulle van U is, ’n plek in u koninkryk sal kry. Amen.