Loof die oppermagtige God. Aan sy liefde is daar geen einde nie. Hy het magtige dade gedoen, Hy alleen. Aan sy liefde is daar geen einde nie – Psalm 136:2, 4.
In Psalm 136 dink die psalmis terug aan God se wonderdade en dank Hom vir sy liefde. Hy loof Hom nie net vir sy oppermag nie, maar ook vir die alledaagse en selfs vanselfsprekende dinge waaroor ons nie eens nadink nie.
’n Ouma vertel dat sy een naweek, toe sy by haar kleinkinders gebly het, vir haar tienjarige kleinseun gevra het: “Dink jy dit help om te bid?”
Hy het skamerig geantwoord: “Ek weet nie, Ouma.”
Toe kon sy vir hom gebeure in die Bybel as bewys van God se ingryping én sy daaglikse versorging voorhou. Sy kon ook geloofstories uit haar eie lewe met hom deel; nie slegs van kere toe gebede beantwoord is nie, maar ook van die kere toe God ver gevoel het en sy antwoord “nee” was.
Dit is ons as gelowige ouers se taak om ons dankbaarheid en erkentlikheid vir alles wat God in ons lewe vir ons gedoen het al met die ry af aan te gee as ’n lewende herinnering.
Jean-Baptiste Massieu, ’n biskop ten tye van die Franse Revolusie, skryf: “Dankbaarheid en erkentlikheid is die herinnering van die hart.” Toe hy in ballingskap in Brussel dood is, was Massieu, die eens invloedryke man, brandarm. Vir hom om bogenoemde te kon skryf, moes hy onwrikbaar geglo het in die krag van dankbaarheid.
’n Teologie van geloofsvertroue word deur dankbaarheid gebou, lees ek.
Here, dankie vir al die dankbaarheidstories wat ’n vastrapplek vir ons geloof is. Amen