“Watter mens onder julle sal vir sy seun ’n klip gee as hy brood vra, of ’n slang as hy vis vra?” – Matteus 7:9-10.
Dit is nie altyd maklik om ’n kind te antwoord wanneer hy moedeloos oor skynbaar onbeantwoorde gebede is nie. “Almal is in die leerlingraad.” “Almal het keuring vir hul kursusse gekry.” “Al my vriende is al getroud!” “Die Here verhoor almal se gebede behalwe myne.”
In God se antwoord op ons gebede is daar soms ’n beletselteken (oftewel …) agterna. ’n Dinkpouse in die middel van ’n sin. Asemophoutyd. Tyd wat eers moet uitloop.
Ons moet ons kinders leer dat God ook in stilte werk. Dat Hy daar is, ook wanneer dit nie so lyk nie. Hy is in die beletselteken, in daardie wagtyd wat soms eindeloos lank en onnodig lyk.
Ons verwag dikwels dat God onmiddellik ons gebede moet beantwoord. God is egter nie haastig nie. Sy tydsberekening is volmaak. Die Israeliete was 400 jaar lank slawe in Egipte voordat God Moses geroep het om hulle na Kanaän te lei.
Meestal is die lesse wat ons in ons “beletseltyd” leer onontbeerlik vir ons geestelike groei. Wanneer ons glo en bely dat God in beheer is, móét ons sy tydsberekening vertrou.
God vergeet ons nooit nie. Ons hoef nooit te dink “almal behalwe ek” nie. God weet wat Hy doen. Ook wat Hy nié doen nie. Hy sal nie vir ons ’n klip gee wanneer ons brood vra nie. Hy wil méér as brood vir ons gee. Hy wil vir ons die allerbeste gee.
Dankie, Here, dat ek nooit hoef te wonder of U my vergeet het nie. Amen.