Kom, almal wat dors is, kom na die water toe, selfs ook dié wat nie geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder om te betaal, wyn en melk. Waarom betaal julle vir iets wat nie brood is nie, waarom werk julle vir iets wat nie kan versadig nie? Luister aandagtig na My, sodat julle kan eet wat goed is en versadig kan word met die beste wat daar is. Gee aandag en kom na My toe, luister, en julle sal lewe – Jesaja 55:1-3a.
God is hier aan die woord. Sy roepstem weerklink oor die aarde: “Kom na My toe!” Deur Hom hoor ons Wysheid se stem. God wil aan sy kinders die lewe in oorvloed skenk. Vir elkeen wat honger en dors is, is daar uitkoms; nie net vir vandag en môre nie, maar vir altyd en altyd. Die uitkoms is daar. Ons moet net ons hand uitsteek en in syne sit wanneer Hy sê: “Kom!”
Net soos Dwaasheid bied Wysheid ook vir ons water aan. Ook verniet. Maar dit is nie gesteelde water nie. Dit is die water van die lewe waarvan ons kan drink sodat ons nooit weer dors word nie. Hoekom sou ons langer wil betaal vir “gesteelde water” wat nie ons dors les nie en vir “kitskos” wat nie ons honger stil nie?
Die Spreukedigter belowe ’n lang lewe aan die regverdiges. Daarmee bedoel hy nie ’n lang aardse lewe nie, maar die ewige lewe saam met Christus. Gehoorsaamheid aan God se stem is ’n “ja!” vir die lewe.
Here, gee vir my u gratis water wat my dors vir altyd sal les. Amen.