Jesus Christus bly steeds dieselfde – gister, vandag en vir altyd! – Hebreërs 13:8 (Nuwe Lewende Vertaling).
Toe een van ons seuns op 16 jaar die geleentheid kry om twee weke lank alleen Londen toe te gaan, was hy uit sy vel van opgewondenheid, maar terselfdertyd skrikkerig. Dit was in die dae voordat selfone so ’n onderneming eenvoudig gemaak het. Die onbekendheid van dié wêreldstad het sy keel laat toetrek. “Sê nou net ek verdwaal?” “Hoe gaan ek weet waar my jeugherberg is?” “Wat as?”
Sy pa se antwoord was eenvoudig: “Kry vir jou ’n paar vaste bakens. Hou hulle in die oog. Hulle gaan nie skuif nie.”
God is ’n vaste baken. Hy is altyd daar. Ons hóéf nie te verdwaal nie. Ons moet slegs ons oog op Hom hou. Dikwels kyk ons teen ons omstandighede en probleme vas. Ons verdwaal terwyl ons vaste baken binne oogafstand is.
In 2 Konings 6 lees ons van die Arameërs wat die stad omsingel waarin Elisa en sy slaaf wegkruip. Elisa is nie bang nie, want hy sien duidelik God se teenwoordigheid in die perde en strydwaens vol vuur op die berge rondom die stad. Sy slaaf is verdwaal in sy vrees. Daarom bid Elisa dat die Here sy oë sal oopmaak.
Eers nadat Elisa vir die slaaf gebid het, het sy oë vir die werklikheid van God se teenwoordigheid en beskerming oopgegaan. God se magte het nie éérs verskyn toe Elisa gebid het nie. Hulle was van die begin af daar. Daarom kon Elisa kalm wees: Hy het God as vaste baken in sy lewe gehad.
Here, U is my vaste baken. Ek sal nie verdwaal nie. Amen.