Versterk daarom die slap hande en die lam knieë en loop die reguit pad. Dan sal wat lam is, nie uit lit raak nie, maar gesond word – Hebreërs 12:12-13.
’n Jong vrou – met twee woelige kleuterseuntjies, onderskeidelik vier en twee jaar oud, en ’n baba van drie weke – sien haar man met sy vertrek na Amerika op die lughawe af waar hy ’n jaar lank met ’n studiebeurs gaan studeer.
Dit is nog in die era voor selfone. Sy weet nie hoe sy dit gaan regkry om haar huis en kinders alleen te behartig nie. Hulle het pas na ’n studentedorp verhuis. Sy ken nog nie mense nie en haar ouers bly ver. Sy voel ontredderd.
Die aand bel sy haar ma en huil bitterlik oor die foon.
Die ouer vrou luister geduldig en simpatiek. “Moet jouself nie bejammer nie. Elke dag het 24 uur. Jy hoef nie môre se ure by te las nie. Doen wat jy nóú moet doen. Jy kán,” sê sy.
Die jong ma het haar skouers agtertoe getrek en een dag op ’n slag begin leef. Minuut vir minuut. Uur vir uur. 2 Korintiërs 12:9 het haar gedra: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.”
Sy het haar op God se genade beroep. Telkens wanneer haar knieë wou lam raak en haar hande slap, het sy gepleit dat sy genade haar sal deurdra. En dit het. Meer nog, God se genade het haar sterk gemaak. Sy het besef: Dit is nie my eie krag nie, want dié sou te min wees.
Dit is God s’n. Daarom sal dit genoeg wees.
Here, dankie dat u genade altyd genoeg is. Amen.