“En aan die gelowiges, dié wat U vrees, klein en groot, word hulle loon gegee; en dié wat die aarde vernietig, word vernietig” – Openbaring 11:18b.
Ons sintuie voed ons gees. Ons moet mooi dinge kan sien, hoor, ruik en op ons vel voel. Ons word daagliks met soveel verval gekonfronteer dat ons gemoed dikwels ook afgetrek word.
Ons buitewêreld spoel oor na ons binnewêreld. Ons voel oorweldig en magteloos. Wat kan ons as enkelinge tog regkry? Waar begin ’n mens?
By jou eie voordeur.
By een van my vriendinne se huis word besoekers in die voorportaal deur ’n groot geraamde afdruk van 24 verskillende voordeure begroet. Party rooi geverf, ander met rankers rondom. Party van soliede hout, ander van gebrandskilderde glas. Elke voordeur het sy eie bekoring en nooi die besoeker om oor die drumpel te tree.
Ons eerste indrukke van iemand se woonplek kan ons gemoed lig. As elkeen daardie eie klein ruimte versorg, sal dit aansteeklik op ’n gemeenskap begin inwerk.
“Ons plek is óns s’n,” sê ’n inwoner van ’n netjiese dorpie. “Ons is trots op ons dorp. Daarom vat ons hande. Ons plant bome en blomme. Ons maak beurte om rommel in ons strate op te tel. Dis ons eer. Ons wil ons dorp beter agterlaat as wat ons dit ontvang het.” Om met ’n “groen gewete” te lewe moet ’n denk- en leefwyse word.
Ons groen planeet is ons woonplek vir die duur van ons aardse lewe. Dit is ons tuiste – die plek waar ons werk en woeker, leef en béleef.
Wat is mý bydrae?
Here, uit dankbaarheid vir al u goeie gawes wil ek ook my deeltjie bydra en my woonplek ’n lushof maak. Amen.