En dit is die vrymoedigheid wat ons teenoor Hom het, dat Hy ons verhoor as ons iets vra volgens sy wil – 1 Johannes 5:14 (1933/1953-vertaling).
As ouers kan ons onmoontlik alles reg doen, maar ons kan wel bid. Gebed bedek ’n magdom foute. Gebed is ons hoogste voorreg. Dit is die grootste belegging wat ons in ons kinders se lewe kan maak. Die dividende is ewig.
Gebed verander gewone ouers in profete wat hul kinders en kleinkinders en die daaropvolgende geslagte se toekoms help vorm. Net soos één besluit ’n mens se toekoms in ’n bepaalde rigting kan stuur, kan een bepaalde gebed ’n toekomsverskil maak.
Die kerkvader Augustinus is in die jaar 354 nC gebore. Sy ma, Monika, was ’n toegewyde Christen wat sonder ophou vir haar opstandige seun gebid het. Ondanks sy ma se volgehoue gebede het Augustinus met sy onverantwoordelike en losbandige leefstyl volhard. Die wyse Ambrosius het haar getroos met die woorde: “Dit is nie moontlik vir ’n seun vir wie daar so baie gebid word om verlore te bly nie.”
Ná 33 jaar is Monika se gebed vir haar seun se redding verhoor.
Augustinus het tot bekering gekom.
’n Ma wat vir haar gesin bid, word dikwels nie na waarde geskat nie. Ons vergeet dat daardie gebede uitkring na haar kinders se skole, haar man se werkplek en die ganse gemeenskap. Dit word ’n onstuitbare krag wat voortstu na die wêreld daarbuite. Lank nadat ’n biddende ma oorlede is, is die ingreep van haar gebede nog sigbaar – dikwels ver buite die mure van haar huis.
Here, ons weet dat ons gebede vir ons kinders wyd kan uitkring wanneer ons volgens u wil bid. Amen.