“Van U kom rykdom en eer. U heers oor alles. Mag en krag word deur U geskenk, en dit berus by U om enigiemand groot en sterk te maak. Alles kom tog van U af en ons gee aan U wat ons van U gekry het. Net soos al ons voorvaders is ons by U sonder reg of aanspraak. Ons tyd op aarde is soos ’n skaduwee, dit gaan verby” – 1 Kronieke 29:12, 15.
Rykdom word in die Bybel dikwels as ’n bewys van God se seën gesien. Ons lees nêrens dat iemand verbied word om besittings te hê of dit op ’n eerlike wyse te vermeerder nie.
Die aartsvaders Abraham, Isak en Jakob, asook Job, was vermoënde mense. God het nie ’n verbod op hul besittings geplaas nie. Aan Salomo het God rykdom as teken van sy guns gegee.
Ons weet egter ook dat Salomo – toe die Here aan hom gevra het wat hy die meeste begeer – nie rykdom gekies het nie, maar wysheid.
Dit is nie verkeerd om aardse besittings te hê nie. Elkeen van ons wil graag iets besit wat ons ons eie kan noem. God verwag egter van ons dat ons verhouding met ons aardse besittings reg sal wees. Ons mag dit gebruik en daarvan geniet, sonder om te vergeet dat ons slegs rentmeesters daarvan is.
Wie dit verstaan, sal begryp waarom ’n mens nie jou hart aan die aardse besittings mag verpand nie. Ons hart mag alleen aan God behoort.
Here, dankie dat ek alles kan geniet wat U aan my toevertrou terwyl ek weet dit behoort aan U. Amen.