Moet jou nie te regverdig wil hou nie, moenie aanspraak maak op meer wysheid as wat jy het nie; waarom jou eie ondergang soek? – Prediker 7:16.
Dikwels roem ouer mense daarop dat hulle meer wysheid as die jonger garde het. Soms gee ’n ouer vrou ongevraag raad aan ’n jonger vrou, terwyl sy terselfdertyd laat blyk dat dit die enigste manier is hoe dinge gedoen moet word. Opmerkings soos: “Julle jongmense weet mos nie …” laat die jonger persoon verleë voel, of maak haar wrewelrig.
Baie verhoudings het al weens ongevraagde inmenging skade gely. Hoe meer ouer mense hul meerderwaardigheid ten toon stel, hoe minder raak die jonger garde se selfvertroue en hoe meer kruip hulle in hul dop. Of hulle besluit om hulle nie aan die raad te steur nie en die ouer mense te ignoreer. Die beterweterige inmenging kan selfs ’n wig tussen ouers en volwasse kinders indryf.
Ouer mense is nie noodwendig wyser as jonges nie. Hulle het nie altyd meer insig, kennis of lewensvaardighede nie. Hulle moet die jongeres in nederige afhanklikheid bedien en hulle laat voel dat hulle hulle as gelykes beskou; nie as jonk, minderwaardig en onkundig nie. Iemand vertel van haar ouer niggie by wie sy gereeld gaan kers opsteek. Sy sê: “Sy luister altyd met volle aandag na my – sonder om my te onderbreek. Sy gee min raad en laat my gewoonlik toe om self te besluit. Wanneer sy wel haar mening gee, luister ek met aandag. Sy besit ware wysheid. Dit straal spontaan uit in alles wat sy doen.”
Here, bewaar my van beterweterigheid. Amen.