En wat julle geleer en ontvang en gehoor en in my gesien het, doen dit, en die God van vrede sal met julle wees – Filippense 4:9 (1933/1953-vertaling).
’n Familiefilosoof herinner sy kinders gereeld: “Vredemakers bou brûe terwyl ander hulle nog staan en vergaap aan die klowe.”
Moeder Teresa en emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu, albei ontvangers van die Nobelprys vir Vrede, was brugbouers vir vrede. Hul lewe het getuig van ’n diepverworwe vrede, eie aan ’n deurleefde kind van God.
Moeder Teresa het dit so maklik laat klink: “Vrede begin met ’n glimlag. As ons nie vrede het nie, is dit omdat ons vergeet het dat ons aan mekaar behoort.”
Tydens die Tweede Wêreldoorlog het Anne Frank, ’n Joodse tienermeisie, twee jaar lank saam met haar gesin in ’n beknopte ruimte agter ’n vals muur in ’n Amsterdamse huis gewoon. Hier het sy in haar dagboek geskryf voordat hulle deur die Nazi’s gevang is.
Anne Frank is kort voor die beëindiging van die oorlog in die strafkamp by Bergen-Belsen dood. Haar dagboekwoorde het egter lewend gebly en is ná die oorlog as ’n boek getiteld Het Achterhuis uitgegee. In die boek pleit sy vir vrede, menslikheid en geregtigheid. Haar woorde: “Hoe wonderlik is dit dat niemand ’n oomblik hoef te wag om die wêreld ’n beter plek te maak nie,” eggo meer as ’n eeu later steeds oor die hele aarde.
Ons kan ook brugbouers wees.
Ons moet die pragtige Keltiese gebed vir vrede vir onsself toe-eien:
Die diep vrede van die golwende see, van die sagte aandwind, van die stil aarde, van die skitterende sterre; die diep vrede van Christus, die lig van die wêreld, vir jou. Amen.