Mag die woorde van my mond en die gedagtes van my hart vir U aanneemlik wees, Here, my rots en my Verlosser – Psalm 19:15 (Nuwe Lewende Vertaling).
Clichés is gesegdes wat waardeloos geword het. Dié woorde het hul seggingskrag verloor. Die sout het kragteloos geword. Wanneer ons praat sonder om regtig oor ons woorde na te dink, gebruik ons clichés. Dit kom uit ’n hart sonder vuur en dit kan nie ’n vlammetjie in iemand anders se hart aansteek nie.
Soms praat ons oë, gesigsuitdrukking, aanraking, woordelose ontferming en stil dade duidelik hoorbare woorde.
Ons “gebaretaal” kom dikwels spontaan wanneer ons nie woorde vind waarmee ons iemand kan troos of aanmoedig nie.
’n Pa vertel van hul voordeurklokkie wat op ’n reënerige aand, ’n paar weke ná hul kind se dood, lui. In die deur staan ’n vriend met ’n pan in die hand. Hy kom vir hulle pannekoek bak.
Empatie is die taal van liefde en omgee en erbarming. Dit is die taal van iemand wat “ja” gesê het op God se liefdesverklaring aan hom of haar. Dit is liefde in aksie.
In Prediker 3:7 lees ons dat daar ’n tyd is vir alles: ’n tyd om stil te bly, ’n tyd om te praat. Eers luister. Dan praat. Te veel woorde word goedkoop woorde. Ons moet dus bid vir wysheid om te weet wanneer om stil te bly en wanneer om te praat. En wanneer ons praat, moet ons dit só doen dat dit tot seën vir ander sal wees.
Met of sonder woorde is ons die draers van hoop in hierdie stukkende wêreld.
Here, laat my woorde en nie-woorde tot u eer wees. Amen.