Wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? Kan so ’n geloof ’n mens red? – Jakobus 2:14.
In sy boek Die doelgerigte lewe skryf Rick Warren: “Here, dit maak nie saak of ek vandag enigiets anders uitrig nie, maar ek wil seker maak dat ek tyd afstaan om U lief te hê en ander mense lief te hê – want dit is waarom die lewe draai. Ek wil dié dag nie vermors nie.”
Daar word ’n aangrypende verhaal vertel van ’n vrou wat as huishoudster vir ’n Christenvrou gewerk het. Sy was deel van die gesin se dagroetine – van vroegoggend tot laataand. Haar werkgewer het vir haar ’n Bybel en Christelike leesstof gegee om saans ná werk, wanneer sy alleen in haar kamer is, te lees.
Een oggend het die huishoudster bedank, skynbaar sonder enige goeie rede. Die werkure was billik, die betaling goed.
Op die werkgewer se verbaasde vraag waarom die huishoudster haar diens wou verlaat, het sy geantwoord: “By Mevrou het ek al die teorie gekry van hoe ’n Christen se lewe behoort te lyk. Nou wil ek ’n huis gaan soek waar ek die lewende Christus in die dade van die huismense kan ontmoet.”
Tussen Ludwig von Beethoven se musiek is ook dié gebed gevind: “Al wat ons van U vra, o God, is om nie op te hou om ons te vernuwe nie. Laat ons by U bly en, op watter manier ook al, die vrugte van die goeie werke dra, om Jesus Christus ons Heer se ontwil.”
Here, help my dat my dade parallel aan my geloof loop. Amen.