”Hierdie dinge is geboortepyne, die begin van ʼn nuwe tyd” (Markus 13:8).
Markus 13, waar Jesus breedvoerig oor die toekoms praat, bied onder meer ʼn prentjie van hoe die menslike geskiedenis hom herhaal en telkens op ou én nuwe maniere ontvou.
En dit nie alleen in Jesus se tyd en daarná, toe sy volgelinge vervolg is nie, maar ook in ons moderne era.
O, hoe bekend klink dit nie! Jesus se voorspelling oor die rumoer en gerugte van oorloë, die chaos van aardbewings, die ondraaglike laste van droogtes en hongersnood (Mark 13:7-8). En tussendeur die toesprake en beloftes van breedsprakige leiers en profete wat die mense mislei, dreig en selfs vervolg (13:9, 11, 21-22).
Tereg wys die teoloog Karl Barth daarop dat ons as gelowiges in sulke tye en tydens sulke ontstellende gebeure ook die donker skaduwee van God se oordeel moet raaksien, sy oordeel wat die chaos van ons geskiedenis telkens ontmasker as die wrang vrug van menslike arrogansie en sonde.
Gelukkig, en daaroor skryf Barth ewe aangrypend, is daar die keersy van God se oordeel, altyd óók God se troue liefde en genade wat in en deur die chaos werk. Sodat wie gelowig die donkerte in staar dit áltyd kan doen met die verwagting dat daar lig sal wees – die lig van God se geduld en vergifnis wat, in Leonard Cohen se woorde, gedurig deur die krake in ons geskiedenis bly skyn.
Trouens, Jesus sê dit reeds in soveel woorde wanneer Hy ons herinner: Hierdie (donker) dinge is geboortepyne, die begin van ʼn nuwe tyd – ʼn tyd van nuwe lig en vars hoop (13:8).
Wat ʼn troos is hierdie woorde van Jesus wanneer die donker dinge van ons geskiedenis ons so moedeloos en wanhopig maak.
O Here, help ons om nooit te vergeet dat U leef en werk nie – ook in en deur die donker dinge van ons geskiedenis. Amen.
Carel Anthonissen